Shop Menu

‘n Onderhoud met Annelie Botes

Eerstens, baie dankie dat jy ingestem het vir ‘n onderhoud. Dit is regtig ‘n eer dat jy tyd kon afstaan in jou besige skedule om met ons te gesels. Ek is seker ons lesers waardeer dit verskriklik baie!
EB: Annelie Botes is al vir jare ‘n huishoudelike naam in Suid-Afrika. Kan jy ons dalk meer vertel oor Annelie Botes, die mens agter die skrywer?

AB: Gebore Junie ’57 op die plaas Grootfontein in die Kammanassie naby Uniondale. Gedoop, geskool, getroud op Uniondale. Behaal in ’86 ‘n onderwyslisensiaat in klavier aan Unisa.
Eerste publikasie in die Brandwag, op 18. Begin in ’94 aktief skryf. Nagenoeg 100 tydskrif-kortverhale & 300 koerantrubrieke geskryf oor tye heen. Sy het 8 boeke gepubliseer – Trippel Sewe, Ribbokvoete, Klawervier, Trousseaukis, Raaiselkind, Nawelstring, Broodsonde & Sabbatsreis. Klawervier en Raaiselkind het ook verskyn in Engels, Duits en Hollands. In Junie vanjaar het haar bloedskande-roman, Thula-thula, verskyn.
Van nering is sy ‘n klavieronderwyseres. Maar van Blackjack, Poker en Roulette kan jy haar niks vertel nie.
Ek hou nie van CV’s nie, sê sy. Want CV’s teken net die goeie kant van ‘n mens. En dis oneerlik. Ek het baie foute, en ek steek hulle nie weg nie. Daar is niks omvangryk aan my nie. Ek is ‘n doodgewone mens wat skinder en huil en ‘n overdraft het. My lewensideaal is om ‘n rustige en versorgende vrou en ma te wees. Maar dit bly my ontwyk. Al in die lewe waarvoor ek nie kans sien nie, is bergklim en bungee-jumping. Die dinge wat my die meeste aantrek in die lewe is kerse, reën, die ruising van die see en om in die middel van die nag wakker te word ná ‘n mooi droom. My grootste afkeure is as iemand dink ek is onnosel, as die bergwind waai en wanneer my hande taai is.
Eendag wil ek nog na ‘n simfonie-orkes in La Scala gaan luister. En Tibet toe gaan, en kaalvoet in die strate van Jerusalem loop. As ek my lewe kon oorhê, sal ek net een ding verander: Ek sal báie meer op my instinkte staatmaak vir visie en oorlewing.
Dis ek. Niks méér as dit nie. Maar ook niks mínder nie.
EB: Jou nuwe boek Thula-thula het verlede jaar op ons rakke verskyn, en is reeds besig om die land aan die praat te kry. Vir die wat nie weet nie, waaroor gaan die verhaal en wat is die storie agter die storie vir hierdie titel?

AB: Op ‘n wintermiddag kom Gertruida terug Kiepersolkloof toe nadat haar pa en ma op die dorp begrawe is. Haar hart juig. Dit was nie haar pa en ma nie. Dit was Abel en Susarah. Mense wat wandel met God. En ingehaak is by Satan.
Sy was nie hulle kosbare kroonkiewietjie nie. Toe sy nog wou naaldekokers jaag, het Abel haar lyfie gesteel en haar met die naglikkewaan gedreig. Kindvrou wat nakend in die maanlig voor die venster dans, terwyl Susarah agter digte gordyne slaap. Of is sy wakker?
Sy klik die hekslot toe. Voortaan moet sy haar eie lewe lei. Maar sy weet nie hoe nie, want om te haat, ken sy. Maar die liefde verstaan sy nie. Haar grense is vernietig. Die enigste plek van genade wat ooit háre was, is die kliphuis wat sy in ‘n afgeleë kloof gebou het.
In die huis teen die bergrant sit Mama Thandeka met ‘n droewe hart. Vir drie-en-vyftig jare het sy gesien hoe sak die swart kombers op Kiepersolkloof af. Snags is sy gepla, want daar’s dinge wat haar innig spyt. Sy was Abeltjie se swart mama, en toe sy moes gepraat het, het sy ge-thula. Nou is praattyd verby. Al wat oorbly, is om die papas en mamas se geeste nader te roep en te sê: Sit by my, luister mooi. Sodat sy, voor iNkosi, die waarheid kan uitsê.
En Maandag wil sy met haar notsungkierie werf toe sukkel om Gertruida bietjie te gaan vashou. Al wil sy van niemand vasgehou wees nie.

EB: Die karakters in die boek word op ‘n openbarende wyse weergegee. Aan die begin voel mens simpatie met Gertruida, en afsku vir Abel en Susarah, maar met die verloop van die boek verander mens se siening van die karakters. Hoe het jy te werk gegaan met die ontwikkeling van die karakters?

AB: Een van die lekkertes van karakter-ontwikkeling, is dat ék in beheer is. Dis by my ‘n obsessie dat karakters eg en volrond sal optree. Elkeen, nes elke mens op aarde, het sy sterktes en swakhede, en niks daarvan mag verdraai of verswyg word nie. Anders is dit nie ‘n regte mens nie.
Voordat ek ‘n roman begin skryf, spandeer ek maklik twee maande om elke karakter ‘n gedetailleerde geskiedenis van sy eie te gee. Teen die tyd dat ek begin skryf aan die roman, ken ek die karakters van binne en buite. Dan is dit eintlik maklik om hulle te laat optree, want ek weet wat ek van elkeen te wagte kan wees.
Dis nie alleenlik net mense wat karakters is nie. Daar is talle ander teenwoordighede in ‘n verhaal wat deurgaans deel van die aura is. Sulke teenwoordighede is beslis ook karakters, of só hanteer ek hulle. Soos die rivier, die Jack Russell, die frieskoei, die .22, Susarah se tuin, die kliphuis, die laagwaterbruggie, die melkstal. Om net ‘n paar te noem.

 

EB: Die temas wat in die boek bespreek word kan deur verskeie mense as baie sensitief beskou word. Wat was die reaksie van die publiek hierop?

AB: Tot en met hierdie dag het ek nog géén negatiewe, afbrekende kommentaar gekry nie. Ja, mense is geskok en gegru en ontsteld. Maar terselfdertyd is hulle aangegryp en betrokke. Baie mense kan nie vir Gertruida vergeet nie. Sy het vir hulle ‘n vleis-en-bloed-wese geword. ‘n Afgetrede predikant uit die Kaap het die boek so vier weke gelede klaargelees. Ná vier weke kom hier ‘n epos aan wat sê hy kan Gertruida nie uit sy kop kry nie, en of hy maar ‘n paar vrae kan vra. Soos ek al vantevore vertel, het ‘n vrou van ‘n plaas in die Beaufort-Wesdistrik skryf sy het Thula-thula klaargelees, en in die boekrak gesit. Maar Gertruida wóú nie in die boekrak bly nie. Chronies uitgeglip en saam met haar in die kombuis en tuin kom rondstaan. Dis winter, sê die vrou, en dis jagseisoen en sy kon nie heeltyd met Gertruida gesels en redekawel nie, want sy moet vleis werk en wildspasteie maak en oorsese gaste onthaal, en haar konsentrasie word verbreek deur Gertruida se immer-teenwoordigheid. Toe neem sy Gertruida na een van die gastehuisies teen die berghang en sê vir haar sy kan vir 10 dae daar vakansie hou en rus. Maar dán moet sy terug boekrak toe. ‘n Statige tannie van in die 70 kom een Sondag ná die erediens (waar ek orrelis is) na my toe terwyl ek die orrel toemaak. Sy wil vir my iets sê, maar sy kry nie gepraat nie. Net haar lippe bewe, en die trane loop oor haar wange. Toe wéét ek … ‘n Kenmerk van die gehore waar ek gesels oor Thula-thula, is dat hulle stomstil sit. Soms voel ek hulle hóór my nie; asof ek in ‘n glasborrel is. Maar daar is altyd iemand wat met ‘n vraag die glasborrel stukkend steek, en dán zoem dit.
EB: Bloedskande en kindermolestering is onderwerpe waaroor min mense wil praat, en nog minder mense iets wil doen. Wat hoop jy om met hierdie boek te bereik?

AB: My groot hoop is dat mense sal begin praat en diskoerse hou. En my héél grootste smagting en hoop en droom is dat daar iets aan die maatskaplike bestel gedoen sal word, sodat die openbaarmaking van hierdie monsterding nie mense se lewens nóg verder sal opdonner nie.
EB: Thula Thula bevat verskriklike ryk inhoud, en die navorsing wat in die werk ingegaan het, is baie duidelik. As ‘n skrywer, hoe hanteer jy die emosionele reaksie op hierdie tipe materiaal?

AB: Voordat ek met gevallestudies begin werk het, het ek ernstige sielkundige coaching gekry oor hóé om met sulke tragiese gevalle om te gaan. Ek kan nie maar net in hulle lewens inbars en ‘n spul vrot lappe uitruk, en hulle dan agterlos met oopgekrapte smart en skuldgevoelens en skaamte en ‘n luierende stank nie. Terselfdertyd kan ek nie toelaat dat hulle permanent aan my vasklou omdát ek begrip vir hulle tragedie het nie. Ek is net een mens, met net 24 uur in my dae. Ek kan nie vir ewig almal se moeder en confession-priester wees nie, al sou ek wou. Tydens die sielkundige coaching is ek geleer (ek het met navorsing vir Raaiselkind reeds baie meganismes aangeleer) om myself emosioneel te beskerm. Dit beteken ek moet intens kan vóél, maar ek moet ook ‘n ysterpantser aantrek, sodat die pyle nie my hart tref nie. Want as mens emosioneel óórbetrokke is, kan jy later nie objektief daaroor dink nie.

EB: Jou ander boeke spreek ‘n wye reeks van sosiale kwessies aan. Wat dien as inspirasie vir hierdie temas?

AB: Nog my hele lewe was ek ‘n kampvegter vir die underdog. Selfs as klein dogtertjie het ek gekweste duifies in ‘n skoenboksie probeer gesondmaak,en en my hart uitgehuil as die kuikenvalk ‘n kuikentjie vang. Ek kan vreeslik simpel wees, soms. Veronderstel ek kook groenbone vir middagete, en ek skep die gaar bone uit die pot in ‘n opdienbak, en daar bly een boontjieskyfie in die pot agter, dan krap ek hom uit in die bak in. Want in my simpelgeit maak dit my hartseer om te dink dat dit eens ‘n bonepit was wat moes ontkiem, deur die grond moes breek en moes rank en blom en uiteindelik ‘n groenboon vorm. En nou, heel aan die einde van alles, a.g.v. my traak-my-nie-agtigheid eet niemand dáárdie boontjiestukkie nie. It’s a life wasted, as dit sin uitmaak. Ek dink dis my ingebore duifie-erbarming, met selfs die kleinste ietsies, wat my inspireer, of eintlik forseer, om die sosiale kwessies van die underdog aan te durf.
EB: Afrikaanse literatuur is so verskriklik dinamies. Skrywers van verskillende ouderdomme en agtergronde is besig om naam te maak in die veld. Hoe ervaar jy die huidige Afrikaanse lesersmark?

AB: Ek lig my hoed vir die landswye leeskringe wat al 30 jaar of meer probeer om ‘n leeskultuur te skep. Vroue is verreweg die gretigste deelnemers, en aldus ook die vurigste uitdraers van lees en nogmaals lees. Vrouens, stedelik en plattelands, is deesdae kundig met die interpretasie van selfs moeilike werke. Hulle probéér, en gaandeweg slaag hulle uitstekend. Hulle entoesiasme het in alle erns begin oorspoel na hulle mans en seuns pa’s en manne-kollegas. Nou moet ons nog net die jare voertsek se voorgeskrewe boeke uit ons skoolsillabusse wegkry, want dít moedig kinders beslis nie aan om ywerig te lees nie. Die óú boeke is góéie boeke, maar vir die jeug is dit verouderd; dit boei hulle nie. ‘n Leeslus moet op skoolvlak al ononderhandelbaar gevestig word.
EB: Wat hou die toekoms in vir Annelie Botes?

AB: Oor so 5 jaar tree my ou gryse af, en ek wil dan ook graag aftree. Miskien nog so hier en daar ‘n kort dingetjie doen. Maar ek wil die woord “sperdatum” uit my lewe wegvee. Vir 15 jaar het ek my álles vir my skryfloopbaan gegee, en ek het myself en my mense afgeskeep. Ek en die gryse wil vir ‘n jaar van noord na suid deur Italië toer met ‘n motorfiets. Hy sê hy sal ‘n side-car kry, sodat ek lekker kan sit en rondkyk en lui wees. Dan wil ons vir ‘n jaar op ‘n huisboot deur al die kanale van Engeland gaan ry, en ek wil ‘n geankerde pottetuin op die dek maak. En ek wil al varende op ‘n dekstoel sit en bekfluitjie speel. As daar nog een skryfdroom is wat ek sou sien realiseer, is dit dat Klawervier (Engels: Mountain of Lost Dreams) die internasionale Engelse mark sal haal. Dit is reeds deur Penguin SA in Engels uitgegee, maar ná die verskyning is fynbos ‘n wêreldplanteryk verklaar, en sover ek weet, is Mountain of Lost Dreams die enigste roman in die wêreld wat afspeel teen die agtergrond van fynbos. Siende dat fynbos deesdae omtrent die status van die Tashmahal het, dink ek dis ‘n boek wat ‘n báie wyer lesersmark verdien. En ja, een van my aspirasies is om uit die skryfmark te tree voordat ek seniel en langdradig en onakkuraat raak.

, , , , , , , , ,

No comments yet.

Leave a Reply